About
Grondwet
die grondwet van die Windvoëls
Betreffende die Naam
Die Windvoëls is gekonstitueer in die jaar eenduisend negehonderd twee en sestig as uitgelese geesgenote en wel met onder andere gholf as gemeenskaplike belang. Alle ander konnotasies met die woord “windvoël” is spekulatief, suggestief en kwaadwillig.
Betreffende Doelstellings
Die Windvoëls se gemoedelike en stimulerende samesyn sentreer om gholfgeleenthede. Hierdie gholfgeleenthede behels veral die volgende:
- Die Jaarlikse Kampioenskap (einde Oktober of begin November).
- KonvensioneleWindvoël-gholf (Saterdagoggende).
- Uitklopkompetisies (vanaf die eerste Saterdag in Mei tot ‘n uitslag bereik is met dien verstande dat die uitklopkompetisies voor Die Jaarlikse Kampioenskap afgehandel word).
- Ecclectic en Grand Prix (vanaf die eerste Saterdag in Mei tot met die geleentheid van Die Jaarlikse Kampioenskap).
- Verteenwoordigende spankompetisies teen ander waardige geesgenootgroepe op ‘n tyd en plek wat na gelang van omstandighede bepaal word.
- Kompetisies teen die Meringues wat van tyd tot tyd gereël word.
Betreffende Lidmaatskap
Lidmaatskap geskied streng volgens uitnodiging. Slegs lede van Wingate Park Country Club kan in aanmerking kom vir Windvoël-lidmaatskap. Die minimumouderdom vir lidmaatskap is 21 jaar. Die maksimumouderdom op aandrang van ‘n groter wordende drukgroep (sosiaal en fisiek) is verhoog van 60 tot 100 jaar Die maksimum ledetal is 20.
Betreffende Organisasie
- Deelname aan Saterdagoggende se konvensionele Windvoël-gholfaktiwiteite word van Saterdag tot Saterdag bevestig.
- Alle konsensieuse Windvoëls kwalifiseer vir die Jaarlikse Kampioenskap, uitklopkompetisies, Ecclectic en Grand Prix.
- Verteenwoordigende spanne word saamgestel op grond van Windvoëls se bestaande gholfvorm (wat deur objektiewe geesgenote onderskei sal word van die verbeelde gholfvorm), aantal jare van lidmaatskap en gereelde deelname aan alle (openbare sowel as klandestiene) Windvoël-aktiwiteite.
- Deur die Varkmeester, en na sy diskresie, funksioneer die Varkie as fiskaal wat goeie orde in stand hou en tekens van onbeheerstheid onder Windvoëls subiet onderdruk, om fondse in te samel, en om ‘n esprit de corps te bevorder. Die Varkmeester is gemagtig om hoorsêgetuienis te aanvaar. Gedurende Varkietyd word die Varkie gerespekteer, nie direk aangespreek nie en nie onwelvoeglike name toegevoeg nie. Fondse word aangewend as ‘n blyk van waardering jeens klubpersoneel.
- Op die eerste Saterdag van elke maand, ten tye van ander soortgelyke geleenthede, asook tydens die deelname aan verteenwoordigende spantoernooie, speel Windvoëls in Windvoël-drag: die vleiende donkerblou broek en kouse en ligblou hemde. Bypassende gholfpette is toelaatbaar. Onderbroeke na smaak. Sakdoeke is opsioneel maar mag onderling geleen word. Donkerbrille is onwaardig, asook kamme in kouse. Dasse is verbode.
- Windvoël-vergaderings word op die eerste Saterdag van elke maand gehou.
Betreffende Hiërargie
All Windvoëls word verdeel in Seniorkapteins, Kapteins, Juniorkapteins en Manskappe. Rangtrek is strafbaar. Daar is hoogstens vier Seniorkapteins, waarvan een as Organiserende Seniorkaptein optree. Hy lei vergaderings. Die posisie van Seniorkaptein is grondwetlik, een wat respek eis, is permanent en ononderhandelbaar. Die Seniorkaptein se status lat hom egter nie noodwendig toe om in sy vierbal eerste af te slaan nie. Dit staan hom ook steeds vry om meer as slegs die regulasiedop te koop.
Vir die Saterdagvierballe word ‘n Spankaptein demokraties verkies mits ‘n Seniorkaptein nie teenwoordig is nie.
Ander groepsverbande onder Windvoëls kan hiêrargies bepaal word aan die hand van die onderstaande formule vir KI (waar KI staan vir kapteinskapindeks en nie noodwendig die teenoorgestelde van IK is nie). Sodanige evaluering van ‘n plek in die Windvoël-hiêrargie is ‘n persoonlike aangeleentheid. Elke Windvoël behou hom die reg voor om sy stand openbaar te maak al dan nie. Elke Windvoël behou hom ook die reg voor om ‘n medelid se evaluering te aanvaar al dan nie. Die weg tot arbitrasie geskied deur die Varkie.
Formule vir bepaling van die Kapteinskapsindeks (KI).
KI=0,48(A + 2,1B) + 1,28C – 1,28D +E + F + G + 0,2H -I – J,
waar
- A= ouderdom van lid, afgerond tot die naaste jaar
- B= aantal jare lid
- C= aantal kere per jaar wat lid as Windvoël speel
- D= voorgee
- E= gholfetiketfaktor (goed =20; matig = 10; swak = 0. (E kan nie deur die betrokke Windvoël selfbepaal word nie). Bokke, stokgooie, luiende selfone, groet, (geregverdigde) opmerkings oor die Spankaptein in die besonder en Seniorkapteins in die algemeen, en dies meer (wat in elk geval onder die Varkmeester se aandag kom), asook die oordoen van die Windvoëlkreet en ‘n oordadige “rectovent” -houding na ‘n wenslag resorteer onder hierdie kategorie)
- F= dopkoopfaktor (konsensieus en met oorgawe = 10; tydsaam=-5; vergeet soms =- 15)
- G= spanlojaliteitsfaktor (word gehoop ‘n opponent se set val vir die span alhoewel dit vir die lid self’ putjieverlies kan impliseer: altyd = 20; soms = 5; bok hom vir’n mis =- 10)
- H= lengte nadat vir 10 min. in 15°C geswem is (mm.) 1= moan-faktor (gereeld = 20; soms = 10; uiters selektief=0)
- J= 10 x aantal kere per jaar wat Windvoël onttrek nadat onderneem is om te speel
SLEUTEL:
- KI>150: Seniorkapteinkwaliteit oorweeg om aansoek te doen
- 125 < KI<150: Kaptein
- 100 <KI <125: Juniorkaptein
- KI<100: Manskap (ná tien jaar as Manskap is dit eties om hierdie posisie openbaar te maak. Namaals geld dit lewenslank en is dit soos seniorkapteinskap ook nie meer onderhandelbaar nie).
GEGEE TE PRETORIA ONDER DIE HAND VAN DIE SENIORKAPTEINS
VIR DIE WINDVOëLS WAT AL WAS, DIE WINDVOëLS WAT NOG IS, EN DIE WINDVOëLS WAT ALTYD SAL WEES.